Showing posts with label Jou brein is joune. Show all posts
Showing posts with label Jou brein is joune. Show all posts

Wednesday, 6 July 2016

BREIN GESONDHEID - Voed jou brein (Deel 3)

In deel 3 van breinvoeding sal veral gekyk word na watter voedingstowwe belangrik is vir effektiewe impuls oordrag tussen die miljoene senuselle in ons brein.


Figuur 1: Diagram om die bou van ‘n enkele senusel (neuron) aan te toon.

1.1.  Neuro-oordragstowwe dra impulse oor die sinaps tussen neurone

Daar is ’n klein opening — die sinaps — tussen die aksoneindpunt en die volgende neuron. Spesiale chemikalieë dra impulse oor die gaping. Die impuls beweeg dan verder met die senuweenetwerk langs. Elke presinaptiese neuron (neuron voor die sinaps) kan slegs een soort oordragstof vrystel. Hierdie oordragstof bind met reseptore op die postsinapties membraan (neuron na sinaps) wat dan veroorsaak dat die impuls oor die sinaps gedra word en verder in die senuweebaan gelei word (sien Figuur 2).Daar bestaan twee soorte sinapse as gevolg van die effek wat die oordragstowwe op die postsinapties membraan het, naamlik:
   -    Prikkelbare sinapse: Die oordragstof sal die postsinapties membraan meer prikkelbaar   maak en dus veroorsaak dat daaropvolgende impulse makliker en vinniger oor die sinaps sal beweeg.

- Inhiberende sinapse: Die oordragstof sal die postsinapties membraan minder prikkelbaar maak en dus veroorsaak dat daaropvolgende impulse nie oor die sinaps sal beweeg nie.

Figuur 2  Die sinaps tussen twee neurone.

Daar bestaan verskillende oordragstowwe wat in die senuweestelsel gebruik word. Van die bekendste van hierdie oordragstowwe is:
Asetielkolien; histamien; dopamien; adrenalien & nor-adrenalien; glutamaat; gamma-aminobottersuur (GABA) en serotonien.
Dieselfde oordragstof het gewoonlik dieselfde effek op die postsinapties membraan, byvoorbeeld: glutamaat (die belangrikste stimulerende oordragstof in die brein) sal altyd impulsgeleiding oor sinapse verhoog, waar GABA (die belangrikste inhiberende oordragstof in die brein) altyd impulsgeleiding oor die sinapse sal blokkeer 1

Die geval van die “gevriesde” dwelmverslaafdes

Gedurende 1982 is Dr. J.W. Langston, ’n Kaliforniese neuroloog, by die stadshospitaal, gekonfronteer deur ’n raaiselagtige mediese probleem wat hy nog nooit voorheen teëgekom het nie. Verskeie jong dwelmverslaafdes is opgeneem in die hospitaal met stokstywe liggaamsposisies. Dit het gelyk of hulle “gevries” was in hul voetspore en kon geen liggaamsbewegings uitvoer nie. Hulle het in dieselfde posisie vir dae in hul hospitaalbeddens gelê sonder die moontlikheid om te praat, te eet of te beweeg. Dr. Langston het deur  intensiewe navorsing op die verslaafdes uiteindelik vasgestel dat hulle die eerstes was wat ’n nuwe “ontwerpers” dwelmmiddel gebruik het wat op die swartmark verkoop is. Die dwelm vernietig die dopamienproduserende selle in ’n sekere deel van die brein, genoem die substantia nigra. Verlaagde dopamien-aktiwiteit het gelei tot die raaiselagtige simptome van hierdie dwelmslawe. ’n Beskadiging van hierdie selfde dopamienvervaardigingselle in die substantia nigra is ook verantwoordelik vir Parkinson se siekte, ’n bewegingsafwyking 2.

Verdowingsmiddels en neurotoksiene beïnvloed die senuweestelsel gewoonlik deur ’n verandering te veroorsaak in die sinaptiese meganisme, byvoorbeeld:
Die verdowingsmiddel kokaïen veroorsaak ’n verhoging in die konsentrasie van die oordragstof, dopamien, in die brein. Te veel dopamien in die brein oorstimuleer die brein. Dit lei tot ’n gevoel van plesier. Waar kokaïen ’n opeenhoping van dopamien tot gevolg het, vind daar in Parkinson se siekte die teenoorgestelde plaas en is daar ’n tekort aan dopamien in die brein wat verantwoordelik is vir oormatige motoriese bewegings.

Voeding wat ’n rol speel in die oordrag van impulse by die sinaps (sien Figuur 1)
Die oordragstowwe gebruik in die oordrag van impulse is afkomstig van aminosure. Ons verkry ons aminosure deur proteïene te eet wat dan in ons spysverteringskanaal afgebreek word na aminosure. Die aminosure word dan uit die dermkanaal opgeneem in die bloedstroom en deur die liggaam gebruik vir die vervaardiging van belangrike molekules soos ensieme, hormone en oordragstowwe. Dit is belangrik om te onthou dat baie van die oordragstowwe ontwikkel uit voorloper molekules 3.
Twee voorbeelde:
· Die aminosuur, fenielalanien, word in ons brein omgeskakel na tirosien (’n aminosuur wat ons in voedsel aantref). Hierna word die tirosien omgeskakel na dopa en dan na dopamien. Dopamien word weer omgeskakel na adrenalien en nor-adrenalien.
· Die aminosuur, triptofaan, word omgeskakel na 5-hidroksietriptofaan (5-HTP) wat dan omgeskakel word na serotonien.

Sekere van die oordragstowwe kan nie oor die bloed-brein skans beweeg nie. In
die voorafgaande voorbeeld kan triptofaan en 5-HTP wel oor die bloed-brein skans
beweeg, maar nie serotonien nie. Om die serotonienvlak in die brein te verhoog, sal ’n
aanvulling van serotonien nie help nie, maar wel ’n aanvulling van 5-HTP of 
triptofaan. Serotonien is ook bekend as die ‘goed-voel’ molekule en navorsing het 
aangetoon dat dit depressie verlig; jou geheue verbeter, jou beter laat slaap, angsvlakke 
verlaag en stres verlig
Proteïene wat vir ons hierdie belangrike aminosuur (triptofaan) verskaf, kom in voedsel voor soos bruinrys, lensies, vis, hoender, eiers, sade en neute, natuurlike joghurt en groente soos ertjies, bone, brokkoli en spinasie4.
Volg ’n bekostigbare, heilsame breinkosdieet
Voedsel kan binne ’n klein begroting steeds voedingsryke proteïene, vrugte en groente insluit. Ons hoef nie noodwendig oesters, neute, salm, forel, haring en makriel in ons breindieet in te sluit nie – daar is ander ewe gesonde alternatiewe. Vervolgens algemene wenke om binne ’n beperkte  begroting gesonde breinkos te kan eet:
-      Koop vrugte en groente in seisoen. Dis altyd goedkoper.
-     Vervang vleis. Kry méér van jou proteïene uit bone, eiers, sojaprodukte en peulgewasse soos lensies.
-     Koop eienaamprodukte. Dis meestal goedkoper – maar vergelyk steeds pryse per gewig of inhoud.
-     Herverpak en vries jou voedsel-inkopies. Herverpak byvoorbeeld net genoeg hoenderstukke of vis vir ’n maaltyd vir jou gesin. Dit keer dat jy te veel kos maak – tensy jy natuurlik vir twee maaltye kook en die gaar kos vries.
-     Koop in grootmaat indien dit produkte is wat lank kan hou.
-     Beplan. Werk ’n maaltydplan vir die week uit en stel jou inkopielys daarvolgens saam. Dit skakel impulsiewe kopies uit, asook die koop van ongesonde kitskos
Bronne:
1.    Holford, P. 2005. Optimum nutrition for the mind. 383 pages. Piatkus. London.

2.   Langston, J.W., 2014. The Case of the Frozen Addicts. IOS Press. 255 p.
3.  Bourre, J.M. 2006. Effects of nutrients (in food) on the structure and function of the nervous system: update on dietary requirements for the brain, part 1: micronutrients. J. Nutr. Health Aging, 10, 377-385.
4.  Gomez-Pinilla, F. 2008. Brain foods: the effects of nutrients on brain function. Nature 9: 568-578.

BREIN GESONDHEID - Voed jou brein (Deel 2)

In deel 2 van breinvoeding sal veral gekyk word na watter voedingstowwe belangrik is vir die onderhoud van die aksone van die miljoene senuselle in ons brein.

Voeding van die aksons met miëlienskedes (vetskedes)

Die brein benodig essensiële vette en fosfolipiede (sien Figuur 1).

Om ’n boodskap te kan interpreteer, moet die boodskap van een senusel na ’n ander gelei word. Boodskappe verlaat die senusel met die hulp van ’n akson (senuvesel). Rondom dié senuvesels is ’n vetlagie waarin omega-vette aangetref word. Daar moet dus genoeg van dié vette in die brein voorkom sodat die senuvesels behoorlik die impulse kan gelei.

Goeie vette en slegte vette
Daar is goeie en slegte vette en dis baie belangrik om die vette nie met mekaar te verwar nie. Die goeie vette is die onversadigde vette*, terwyl die versadigde vette* sleg is vir ons gesondheid. Ons moet onderskei tussen kosse met “goeie vette” en kosse met “slegte vette”. Dit is ook nodig om te weet hoeveel jy van elk mag eet. Die meeste mense wat ’n standaard westerse dieet volg, eet te veel slegte vette en heeltemal te min goeie vette.

· Verlaag die inname van die versadigde vette (trans-vetsure). Hierdie vette kan bydra tot die ontwikkeling van hartsiektes en ’n verhoging van jou kolesterolvlakke. Kosse wat versadigde vetsure bevat: vleis, melk en melkprodukte soos room.
· Verhoog die inname van onversadigde vette. Onversadigde vette word verdeel in mono-onversadigdes* en poli-onversadigdes*. Die omega 3- en 6-vetsure val in die poli-onversadigde groep.

Hierdie poli-onversadigde vetsure moet deur die voedsel wat jy elke dag eet, voorsien word, want die liggaam vervaardig dit nie self nie. Dit is noodsaaklik vir ’n effektiewe breinfunksie sowel as ’n goeie bloedsomloop, goeie sig en ’n gesonde immuunstelsel 1,2.

Fosfolipiede* is ook ’n ander belangrike vet wat ons moet inneem. Dit speel ’n belangrike rol in die instandhouding van neurone. Hoe lyk jou inname van essensiële vette (omega vetsure) en fosfolipiede in jou dieet?




 Interpretasie van jou telling:
-   Telling van 5 en meer: Dit is ’n goeie telling wat daarop dui dat jy waarskynlik        genoegsame goeie vette inkry.
-   Telling van 4 of minder dui moontlik daarop dat jy aandag moet gee aan die inname van   meer goeie vette.

Hoe kan jy meer omega vetsure en fosfolipiede inneem en sodoende die aksone en miëlienskedes opbou (sien Figuur 1)?

  • ʼn Goeie voedselbron van omega 3-vetsure is die volgende:    Olierige vis soos sardientjies, salm, snoek, forel, makriel en haring. Tuna bevat ook omega 3, maar dit moet eerder vars geëet word as geblik. Omega 3 kom in groot hoeveelhede in kouewatervis voor en dit is waarskynlik hoekom ons te min daarvan kry. Die aanbeveling (vir omega 3) is twee tot drie bedienings vis per week.

  • Neute en sade: okkerneute, pampoensade.

  • Olies: Raapsaadolie (canola-olie); lynsaadolie en hennep-olie.

  • Eiers. Dis reg ja, eiers behoort nie net in die kollig te wees tydens Paastyd nie. Eiers, of meer spesifiek die eiergeel, is ’n baie goeie bron van kolien wat jou geheue verbeter. Buiten kolien bevat eiers ook lesitien wat jou brein stimuleer1,2..
Omega 6- inname (kom voor in groente-olies, veral mielie-, sonneblom-, sesam-, okkerneut- en soja-olies) kan voldoende wees deur die voedsel wat ons eet. Veranderings in voedseltegnologie het meegebring dat die huidige westerling se dieet ongeveer 15 dele omega 6 teenoor 1 deel omega 3 bevat, terwyl die ideale verhouding 1 tot 1 is. Hierdie hoë omega 6 tot omega 3 verhouding bevorder talle kroniese siektes terwyl hoër omega 3-vetsuurvlakke neig om kroniese siektes te onderdruk. Dit het derhalwe duidelik geword dat ’n laer omega 6 tot omega 3 verhouding nodig is vir die voorkoming en bestuur van kroniese siektes. 

Dit maak derhalwe goeie wetenskaplike sin om met veral omega 3 aan te vul.  Om dus nader aan 'n gesonde omega 3:6 indeks te beweeg, word aanbeveel dat die inname van omega 3-vetsure verhoog word.

Jy kan ook daagliks salm-oliekapsules as 'n aanvulling drink. As jy dus 'n aanvulling wil koop, koop een wat net omega 3 bevat en nie ook omega 6 nie.
Fosfolipiede: Jou geheue se beste vriende. Die miëlienskede wat die isolerende vetlagie rondom jou senuwees vorm, bestaan hoofsaaklik uit fosfolipiede. Nuwe navorsing toon dat fosfolipiede nie net jou gemoedstoestand en denkvermoë verbeter nie, maar ook die brein beskerm teen geheueverlies en alzheimersiekte.
Lesitien is een van die fosfolipiede wat in sommige voedsel voorkom, maar waarvan ons nie genoegsaam inkry nie. Dr. Dharma Singh Khalsa, outeur van die boek Brain Longevity sê: ``Lesitien* is feitlik ’n wondermiddel so ver as dit die voorkoming van kognitiewe agteruitgang aangaan1.'' Gee jouself ekstra konsentrasievermoë deur jou inname van lesitien te verhoog. Voeg ’n teelepel lesitien by jou ontbytgraan elke oggend. Dit is by gesondheidswinkels in poeier- of kapsulevorm beskikbaar. Jy kan ook jou lesitieninname verhoog deur meer van sekere kossoorte te eet. Van die rykste bronne van fosfolipiede is die geel van eiers. As gevolg van die eierfobia wat ontstaan het oor die kolesteroldebakel, eet ons minder eiers. Navorsing het egter getoon dat eiers nie verantwoordelik is vir die styging in jou kolesterol*-vlakke nie2.  Eet gerus elke oggend een of twee eiers – solank jy dit verkieslik kook en nie in ’n pan gaarmaak nie. Eiers is uitstekende breinkos en het ook ander gesondheidsvoordele.
Bronne:
1.     Holford, P. 2005. Optimum nutrition for the mind. 383 pages. Piatkus. London.
2.   Bourre, J.M. 2006. Effects of nutrients (in food) on the structure and function of the nervous system: update on dietary requirements for the brain, part 1: micronutrients. J. Nutr. Health Aging, 10, 377-385.

Tuesday, 5 July 2016

BREIN GESONDHEID - Voed jou brein (Deel 1)

Inleiding
Daar is ongeveer 100 biljoen neurone (senuselle) in die brein en elke neuron word via ’n akson met tientalle ander neurone verbind. Die verbinding tussen ’n akson eindpunt en ’n volgende neuron geskied via ’n sinaps.
Om ’n idee te vorm van hoe kompleks dit is, kan ons dink aan die bekende woud, die Amasone: Daar is ongeveer 100 biljoen bome in die Amasone (ongeveer dieselfde getal as die getal neurone in die brein) en daar is net soveel konneksies tussen die neurone as wat daar blare is in die Amasone 1.

3.2 Essensiële voedingstowwe vir die brein
In die volgende dele sal daar meer gekyk word na die groepe voedingstowwe wat in elk van die drie dele van ’n neuron benodig word, naamlik: 

  • Neuronselliggaam (Voeding -deel1)

  • Akson met Miëlienskede (Voeding -deel 2)

  • Sinaps (Voeding -deel 3)


Figuur 1: Verskillende groepe voedingstowwe wat die verskillende dele van ’n neuron benodig.



Voeding van die neuron selliggame (sien Figuur 1)

‘Glukose is die enigste energiebron van jou brein’
Wanneer glukose in jou bloed  daal, raak jy baie honger, baie moeg, konsentreer jy swak, raak gespanne, sweet en kry jy hoofpyne. Eet jy dan nou te veel ongesonde koolhidrate (hoë glisemiese indeks) in plaas van gesonde koolhidrate (lae glisemiese indeks), voel jy goed vir ’n kort rukkie, omdat die bloedglukosevlak weer gestyg het.
Ongelukkig duur hierdie goeie gevoel net vir ’n paar uur en word gevolg deur ’n daling van bloedglukose. Die daling onder die normale vlak laat jou baie sleg voel, honger en baie moeg. Die brein stuur dan ’n boodskap uit na die liggaam om nog meer soet, ongesonde koolhidrate in te neem om “beter te voel”. Hierdie proses word herhaal en ’n bose kringloop volg. Indien hierdie patroon oor jare gevolg word, ontwikkel daar ’n glukose wanbalans in die liggaam wat uiteindelik uitloop op die ontwikkeling van diabetes mellitus tipe 2 of suikersiekte. Sulke skommelings in die bloedglukosevlakke is nie goed vir die brein nie.
Voltooi die onderstaande vraelys wat kan aandui dat jou bloedsuikervlak konstant gehou word gedurende die dag en die brein dus voldoende glukose verkry.




Interpretasie van jou telling:
-  Telling van 5 en meer: Dit is ’n goeie telling wat daarop dui dat jy heelwaarskynlik ’n  konstante bloedsuikervlak handhaaf en die brein voldoende glukose verkry.
-  Telling van 4 of minder dui moontlik daarop dat jou bloedsuikervlak nie konstant is gedurende die dag nie.


Wat kan ek doen om my vastende bloedglukosevlak konstant te hou?

Kenners beveel aan dat jy minstens ses keer per dag klein maaltye met ’n lae glisemiese indeks* (GI) eet. Hoe hoër die GI, hoe vinniger is dié proses van vrystelling van glukose in die bloed. Die GI word beïnvloed deur die tipe koolhidrate, vet en proteïene wat jy eet, die hoeveelheid oplosbare vesel in jou kos, asook die gaarmaakmetode1. ’n Aartappel wat in ’n mikrogolfoond gaargemaak is, het bv. ’n hoër GI as een wat in ’n kastrol met water gekook is. Vir meer inligting oor lae glisemiese indeks voedselsoorte, raadpleeg pamflette wat jy kan  verkry vanaf sommige klinieke en gesondheidswinkels (of soek meer inligting op die internet) 2, 3.

The South African Glycemic Index & Load Guide deur Gabi Steenkamp en Liesbet Delport (2005) verskaf die GI van talle Suid-Afrikaanse produkte. Dit word uitgegee deur die Glycemic Index Foundation of South Africa (GIFSA). Besoek die webblad www.gifoundation.com. Hieronder volg basiese inligting wat jy kan volg om te verseker dat jy genoegsame lae glisemiese indeks koolhidrate inkry: 

  • Vermy enige verfynde koolhidrate (koek, witbrood, pasteie ens.) sowel as kosse wat baie suiker bevat.
  • Kombineer proteïenvoedsel met koolhidraatvoedsel deur byvoorbeeld graankosse saam met neute en sade te eet. Sorg ook dat jy styselvoedsel (aartappel, brood, pasta en rys) saam met vis en vleis eet.
  • Eet vier of meer porsies volgraanprodukte per dag soos bruinrys, hawermout, volgraan brood, volgraan ontbytkosse en volgraan pasta.
  • Eet vyf of meer porsies groente per dag. Kies donkergroen groentes, blaar en wortel groentes soos wortels, patats, brokkoli, Brusselse spruite, spinasie, groenbone ens. Eet dit lig gaargemaak.
  • Eet een of twee porsies vars vrugte soos appels, pere, bessievrugte en sitrusvrugte. Vermy vrugte met ’n hoë glisemiese indeks soos piesangs en druiwe. Gedroogte vrugte moet in klein hoeveelhede geëet word as gevolg van die hoë suiker inhoud daarvan. Alle vrugtesappe moet met water verdun word.

Die brein se neurone benodig sekere vitamiene en minerale. Die beste vriende van die brein is ’n groep vitamiene en minerale wat agter die skerms ’n belangrike rol vervul.
B-vitamiene: Die B-kompleks* vitamiene is van kardinale belang vir geestesgesondheid. Hierdie agt B-vitamiene is wateroplosbaar en kan maklik deur die liggaam verloor word. Daarom benodig ons ’n gereelde inname daarvan. Selfs ’n tekort aan een van hierdie vitamiene sal ’n impak op die brein hê.
Vitamien B12 en ouer mense
Vitamien B12 speel ’n belangrike rol in die normale funksionering van die brein en senuweestelsel, en ook in die vorming van rooibloedselle. Vitamien B12 benodig gastriese intrinsieke faktor (draermolekule) om uit die terminale ileum gedeelte van die dermkanaal geabsorbeer te word. By sommige ouer persone word daar nie genoegsame Vitamiene B12 geabsorbeer nie as gevolg van die afwesigheid van genoegsame intrinsieke faktor. As jy aan ’n Vitamien B12-tekort ly, sal jy dalk die volgende simptome ondervind: moegheid, bloedarmoede, abnormale sensasies en ander neurologiese probleme en geheueverlies. Hierdie simptome verdwyn vinnig ná behandeling met gereelde B12-inspuitings. (Bespreek dit met jou dokter as jy vermoed jy ly aan ’n Vitamien B12 tekort.)

Magnesium en kalsium – die natuur se kalmeermiddels: Dit is miskien vir jou vreemd dat magnesium en kalsium jou rustig kan maak. Dit het ’n kalmerende effek op die senuweestelsel en help ook met die verslapping van spierweefsel. Magnesium is dikwels die tweede element, naas sink, waaraan ons ’n tekort in ons liggame het. Dit kom veral voor in donker-groen groente, neute en sade. Jy kan ook ʼn goeie magnesium en kalsium aanvulling neem saans wat jou veral sal help om goed te slaap. Vra jou apteker om ʼn goeie aanvulling in die verband.
Bronne:
1.      Holford P. 2005.  Optimum nutrition for the mind. 383pages. Piatkus. London.
2.     Bourre, J. M. 2006. Effects of nutrients (in food) on the structure and function of the  nervous system: update on dietary requirements for brain, part 1: micronutrients. J.  Nutr. Health Aging, 10, 377-385.
3.  World Health Organisation.2004. Prevention of mental disorders: Effective  interventions and policy options. Presented at World Health Organisation, Geneva,  Switzerland.
4.     Gomez-Pinilla, F. 2008. Brain foods: the effects of nutrients on brain function. Nature 9: 568-578.

Saturday, 25 June 2016

BREIN GESONDHEID - Beskerming van die brein

 Die beskerming van ons brein kan in twee afdelings verdeel word, naamlik:
ü Beskerming van die brein deur strukture waarmee jy gebore is. Dit is deur God daargestel toe Hy jou “kunstig in die moederskoot aanmekaar geweef het”. Ons beskou dit as die eerste lyn van beskerming en jy het nie beheer daaroor nie.
ü Daar is egter ’n tweede lyn van beskerming waaroor jy wel beheer het.

Eerste lyn van beskerming:
Hier dink ons aan die fisiese beskerming van die brein deur die harde skedel. Die dik, harde been van die skedel beskerm die 100 biljoen neurone (senuselle) van die sagte brein. Verder is daar ook die beskerming en voeding van die brein deur die drie membrane, naamlik: dura mater, aragnoïede en pia mater, wat geleë is tussen die benige skedel en die breinweefsel 2 (sien Figuur 1).
v Die brein moet voorsien word van ’n konstante konsentrasie van suurstof en voedingstowwe (glukose). Hierdie noodsaaklike stowwe diffundeer met groot gemak uit die selektiefdeurlaatbare bloedvaatjies (laat slegs sekere stowwe deur), deur die twee binneste vliese in die breinweefsel.
v Die aragnoïede membraan is ryklik voorsien van ’n netwerk van fyn kapillêre bloedvaatjies (wat dit die voorkoms van ’n spinnerakvlies gee) waardeur voedingstowwe en suurstof aan die brein voorsien word.

Figuur 1. Die beskerming van die brein deur die skedel en breinvliese


(Bron: Human Physiology. L. Sherwood - Cengage learning)

Het jy geweet ? 

Die brein gebruik 20% van die suurstof en 50% van die glukose (bloedsuiker) wat die totale liggaam verbruik.
o  Alhoewel die brein net 2% van die liggaamsmassa verteenwoordig, kry dit 15% van die totale liggaam se bloedvoorsiening.

Hierdie selektiefdeurlaatbaarheid is hoofsaaklik ’n funksie van die bloedvate op die spinnerakvlies, omdat die selle (endoteelselle*) waaruit die bloedvaatjies opgebou is, baie styf teen mekaar pas. Daar bestaan dus geen openinge (porieë) tussen die selle, soos in die geval by ander bloedvate in die liggaam, waardeur groter molekules kan beweeg nie.
Die enigste moontlike pad is om regdeur die bloedvatselle te beweeg. Die buitenste vetlagie van die selmembrane van hierdie bloedvatselle sal egter net vetoplosbare stowwe (’n vet los op in ’n vet) deurlaat. Sekere vetoplosbare stowwe soos suurstof, koolstofdioksied en steroïed hormone kan dus oplos in die membraan en deurbeweeg. Ander goeie stowwe, soos ione, glukose en aminosure word deur spesiale draermolekules deur die membraan gedra.
Die meeste skadelike stowwe is egter wateroplosbaar en kan nie oplos in die membraan nie. Daar bestaan ook geen draermolekules hiervoor nie – vandaar die selektiewe deurlaatbaarheidskarakter van hierdie bloed-brein skans*. Ongelukkig kan die bloed-brein-versperring slegs voorkom dat groter, gevaarlike, ongewenste molekules, soos toksiene (gifstowwe) en verdowingsmiddels die brein kan beskadig, maar dit is nie ’n effektiewe versperring teen kleiner, skadelike molekules soos die metaboliete van alkohol nie.


Tweede lyn van beskerming:
Die tweede lyn van beskerming word verskaf deur die handhawing van gesonde leefstyl gewoontes. Vir hierdie deel van breinbeskerming is jy grootliks self voor verantwoordelik.(Figuur2.2)
Navorsing3 - 5 het getoon dat jou breingesondheid veral op sewe leefstylpilare rus, naamlik:
§  Gesonde dieet
§  Aktiewe sosiale interaksie
§  Brein-oefening
§  Genoeg slaap
§  ’n Stresvrye lewe
§  Gereelde fisiese oefening en
§  ’n toksienvrye omgewing


Figuur 2 Die geïntegreerde breinbeskermingsmodel



Bronne:
1.    Sherwood, L.S. Essentials of Physiology.  4 th Edition. 2006. Brooks/Cole Publishers. U.S.A. 650 pages.
2.    Liu R, Sui X, Laditka JN, Church TS, Colabianchi N, et al. (2012).Cardiorespiratory fitness as a predictor of dementia mortality in men and women. Med Sci Sports Exerc 44: 253–259.
3.    Buchman AS, Boyle PA, Yu L, Shah RC, Wilson RS, et al. 2012. Total daily physical activity and the risk of AD and cognitive decline in older adults. Neurology 78: 1323–1329.
4.    Williams JW, Plassman BL, Burke J, Benjamin S. 2010. Preventing Alzheimer’s disease and cognitive decline. Evid Rep Technol Assess (Full Rep) 1–727.