Wednesday 27 July 2016

LYF GESONDHEID - Is jy bang Jan of dooie Jan

Laat waai, ou maat ! Dis darem lekker by die ‘merry-go-around’. Die opwinding in die duikbommer of die groot sensasie op die kermiswiel is darem lekker. En hierna gaan ry ons spooktrein en skrik ons, ons skoon uit ons verstand uit. Hoekom is dit vir mense soms so lekker om aksie te belewe? Waarom klim mense die hoogste berge, spring uit vliegtuie en doen gevaarlike toertjies? Die antwoord lê in die effek van die hormoon adrenalien wat deur die byniere (endokriene kliere wat bo-op niere geleë is) afgeskei word. Mense raak verslaaf aan die hormoon en word adrenalien vrate 1. Dit is egter nie die doel van die hormoon dat ons verslaaf daaraan moet word nie. Adrenalien word afgeskei as jy in gevaar is ! Dan moet jy besluit of jy moet vlug (bang Jan) of moet veg (en miskien dooie Jan wees). Hierdie hormoon het ons voorgeslagte van toeka gehelp as gevaar dreig. Jou grootjie in die veld word deur ʼn gevaarlike slang bedreig. Sy liggaam skei adrenalien af, wat hom meer spoed en krag gee; sy hartklop verhoog en voedingstowwe en suurstof word voorsien aan die spiere. Terselfdertyd vergroot adrenalien die pupille van sy oë sodat hy die slang beter kan sien. Die hormoon verwyd sy longpypies en hy kan beter asemhaal; die spiertjies in die wande van die slagare trek saam sodat die are effens vernou om die bloed vinniger te laat beweeg, dit wil sê die bloeddruk styg. Senuweegeleiding versnel om die brein vinniger te laat werk (om planne te maak) en boodskappe vinniger by die spiere te kry vir aksie. Jy is meer prikkelbaar en ratser. Verder word liggaamsprosesse soos spysvertering en urinering onderdruk, want dit word nie nou benodig. Dit alles het hom gereed gemaak vir aksie van watter aard ook al (sogenaamde ‘veg of vlug’ respons). 

Die hoofdoel van adrenalien is om jou meer paraat te maak as jy in gevaar verkeer. Dit gee jou bomenslike krag en uithou vermoeë.

As vrees ons ʼn super mens maak!

2006 – Tucson, Ariz.: Tim Boyle sien hoedat ʼn Chevrolet Camaro die 18-jarige Kyle Holtrust tref en bo-op die seun beland. Holtrust is deur die motor vasgepen en lewe nog. Boyle hardloop na die ongelukstoneel en lig die kar op terwyl die bestuurder van die kar die tiener onder die kar uit trek.

Hoe het Holtrust dit reggekry om alleen die swaar motor op te lig. Kenners is dit eens dat die bomenslike krag wat in hierdie, en soortgelyke gevalle, openbaar word die uitwerking van adrenalien op die menslike liggaam is. 2

Die hormoon moet egter net vir ʼn kort tyd ʼn effek op jou lyf hê. Volgehoue vrystelling van die hormoon oor langer periodes kan nadelig vir jou lyf wees. Sodra jy weg is van die gevaar en ontspan moet die afskeiding van adrenalien daal en moet daar ʼn ewewig in tree. Hierdie ewewig word aangehelp deur die parasimpatiese senuwees wat die teenoorgestelde uitwerking op jou lyf het. Onder andere sal verhoogde parasimpatiese stimulasie jou meer ontspanne maak; jou spysvertering aanhelp en selfs beter laat slaap –ʼn ‘rus- verteer’ respons (sien figuur ). Uitgerekte spanning en ʼn verhoogde adrenalien afskeiding versnel ook die verouderingsproses en word vereenselwig met onder meer spysverteringsiektes, hoë bloeddruk asook hartaanvalle. As jy op stimulante leef wat die vrystelling van adrenalien stimuleer (soos koffie, sigarette, diëte met hoë suikerinhoude), kan dit ook die balans van die skildklier versteur. Dit vertraag jou metabolisme en jy kan gewig optel 3.

Figuur: Simpatiese aktiwiteit (verhoogde adrenalien vrystelling) moet gebalanseer word met parasimpatiese aktiwiteit (verlaagde adrenalien vrystelling)

Refleksie – aktiwiteit: Voel jou lyf se ‘veg of vlug’ response
In hierdie refleksie- aktiwiteit moet jy besin oor ervarings in jou lyf wat jy in die verlede beleef het toe jy blootgestel was aan die ‘veg of vlug’ respons. Hierdeur maak jy sin van jou belewenisse en leer daaruit vir toekomstige besluite en optrede.
Dink terug hoe jy in jou lyf gevoel het toe jy tydelik aan spanning bloot gestel was (bedreig is deur gevaar/ byna in ʼn motorongeluk betrokke was ens.) of doen hierdie aktiwiteit as jy iets moet doen wat spanningvol is (voordat jy ʼn toespraak moet lewer of aan ʼn wedstryd gaan deelneem).
Skryf ook ʼn verklaring vir wat jy gevoel het in die regterkantse kolom van die onderstaande tabel. (Moenie die antwoord lees aan die einde, voordat jy jou eie verklaring neergeskryf het)

Tabel: Jou verklarings oor simptome as jy spanning ontwikkel

 Bronnelys:
  1. Van der Merwe, Lydia. Gedryf deur adrenalien! (www.sarie.com/gesond/.../gedryf-deur-adrenalien)
  2. https://en.wikipedia.org/wiki/Hysterical strength
  3. www.hormone.org/hormones-and-health/what-do-hormones-do/adrenaline

2 comments: