Brein onderwerpe en inligting

      Ander onderwerpe wat op hierdie blog bespreek sal word:

  • Die grootste risikos(bedreigings) vir ons brein en liggaam !
  • Jy is in beheer van jou eie brein en liggaam !
  • Jou lyf praat sy eie taal wat jy kan leer om te verstaan
  • Hoe kry jou lyf dit reg om ʼn ewewig te handhaaf ?
  • Spanning as die grootste bedreiging vir jou brein en lyf. 
  • Streshormoon as die ‘good, bad and ugly’.
  •  ʼn Hormoon vir die dag en ʼn hormoon vir die nag.
  • Jou lyf se ewewig is gesinkroniseer met die natuur se ewewig.
  • Hoe weet ek of ek diabetes (suikersiekte) gaan ontwikkel en wat kan ek daaraan doen?
  • Hoe weet ek of ek ʼn hartaanval kan kry en wat kan ek daaraan doen?

Hoe belangrik is jou lyf vir jou
Wanneer jy gevra word om tussen geld en gesondheid (jou lyf) te kies, sal jy sonder aarseling jou gesondheid kies. Dit is beslis die beter keuse, aangesien gesondheid nie met geld gekoop kan word nie. In die draaglikste lewe kies die meeste mense egter geld bo gesondheid, deur hul gesondheid tweede te stel in ʼn gekke gejaag na geld. Ons is bereid om onder stresvolle omstandighede, lang ure te werk en ons liggaam aan die gang te hou met kitskos, suikerbelaaide energie drankies en stimulante (rook, alkohol, medikasie ens). Met die jare is jy al meer geneig om siek te word, tensy jy betyds voorsorg tref en lewenstylaanpassings maak wat jou gesondheid beskerm. Kroniese siektes kan oorerflik wees, maar dit is bekend dat verskeie leefstylfaktore soos die rookgewoonte, ongesonde dieet, gebrek aan oefening en oormatige alkoholverbruik die risiko vir die ontwikkeling van kroniese siektes beduidend verhoog.



Nadenking: Raak vir ʼn oomblik stil en dink ernstig na oor jou leefstylgewoontes wat ʼn invloed op jou gesondheid kan hê ! Is jy te vrede met jou leefstylgewoontes of is daar van hulle wat jy graag sal wil verander?


Jy kan ʼn besluit neem om gesonder te leef en aanpassings op verskillende wyses te maak, soos om gesond te eet, gereelde oefening te kry, en spanning sinvol te bestuur. As jy nie die verantwoordelikheid wil neem om aanpassings te maak nie en kies om afhanklik te wees van mediese hulp, medikasie en mediese fondse wanneer jy siek word, is jy waarskynlik ’n kandidaat vir kroniese siektes.
Wat jou gesondheid betref is daar net twee keuses: die keuse om nie verantwoordelikheid te neem vir jou eie lyf nie, en jy word ’n kroniese, dus lewenslange, kliënt van die mediese bedryf, òf jy neem voorkomend verantwoordelikheid vir jou eie lyf en benut jou eie potensiaal.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dui aan dat kroniese siektes soos kanker, hartsiekte en suikersiekte tans wêreldwyd epidemiese afmetings bereik. Dit veroorsaak gesamentlik meer sterftes as enige ander siektes1.

Kroniese siektes wat prioriteit geniet, is hoë bloeddruk of hipertensie, kardiovaskulêre siektes, asma, epilepsie, beroerte, niersiektes, kanker, obstruktiewe longsiekte * en Diabetes Tipe 2. Die meeste van hierdie siektes ontwikkel oor ’n lang tydperk en, hoewel dit nie genees kan word nie, kan dit voorkom word 1.
Volgens die WGO moet die volgende prioriteite dringend aandag geniet, naamlik:

  • om kroniese siektes te monitor;
  • om mense van die risiko’s van kroniese siektes bewus te maak
  • om hulle te help om hul lewenstyl aan te pas en om gesondheidsorg vir diegene wat reeds siek is, te verbeter 1-3.
In baie ontwikkelende lande waar die fokus in gesondheidsorg op oordraagbare siektes is, word kroniese siektes meestal eers op ʼn laat stadium geïdentifiseer, wanneer pasiënte reeds intensiewe en duur hospitaalsorg benodig.



Jy is die bestuurder en eienaar van jou lyf
Mense van alle ouderdomme word deur kroniese siektes aangetas, maar die risiko om 'n kroniese siekte te ontwikkel word hoër namate ons ouer word; so ook die kans dat die kroniese siekte tot liggaamlike ongeskiktheid kan lei. Die meeste kroniese siektes (leefstyl siektes) kan egter voorkom word. As jy reeds begin het om so ʼn siekte te ontwikkel, maar dit is nog in die beginstadium, kan die verdere ontwikkeling daarvan gestop word. Ons dink veral hier aan kroniese siektes soos diabetes tipe 2 en hipertensie. As jy reeds ʼn kroniese siekte onderlêde het, kan die negatiewe uitwerking wat dit op jou lyf gaan hê ook verminder word. Vroegtydige optrede kan selfs jou lewe red. Die besluit is egter in jou hande, want jou lyf is joune !

Moenie soos die padda in die warm wordende water bly sit nie !

Dalk weet jy dit dat ʼn padda dadelik sal vrek as jy dit in ʼn pot met warm water sit. Terwyl as jy dieselfde padda in ʼn pot met koue water sit en dan die water stadig verhit, sal die padda dit nie agterkom nie. Die water sal later baie warm wees en nog steeds sal die padda sit. Hy raak gewoond aan die warm water. Uiteindelik sal die padda vrek in die pot met warm water. Ons kan hierdie kennis gebruik as ʼn analoog, waar die warmwordende water vergelyk kan word met ʼn kroniese siekte wat besig is om te ontwikkel in jou liggaam.



Die rede waarom mense liewer soos paddas in ’n pot warm wordende water sal bly sit, in stede daarvan om uit te spring, is dat onbewus is van wat in hul lywe gebeur!.Net soos die water stadig warmer word, ontwikkel die kroniese siekte stadig in ons lywe! Neem byvoorbeeld die geval van diabetes tipe 2. Vanaf die aanvang van die siekte, neem dit soms 5 jaar vir die eerste simptome om te verskyn en dit sal miskien 10 – 30 jaar neem om ʼn dodelike finaliteit te bereik!


Spring betyds uit die warm wordende water voordat jy dood kook!
Jy kan vir jare ʼn pre-diabeet wees, voordat jy as ʼn diabeet gediagnoseer word. As jy oorgewig is, baie vet om jou middellyf het en afhanklik is van voedsel met ʼn hoë suiker inhoud, is jy ʼn kandidaat om volskaalse diabetes te ontwikkel.
Indien jy nie aksie neem en uit die pot met warm wordende water spring nie, word die simptome oor ʼn tydperk van 5 – 30 jaar al hoe erger. Uiteindelik sal so ʼn persoon deel word van die statistiek (9% van alle sterftes op die aarde is die gevolg van diabetes). Miskien redeneer jy dat jy wel op een of ander wyse moet sterf, maar dit is nie nodig dat jy in die proses ʼn arm of been moet verloor, of blind word, of op ʼn vroeë ouderdom ʼn hartaanval kry nie. Dit is nie nodig dat die gevolge van ʼn kroniese siekte jou lewenskwaliteit verlaag nie.

Indien diabetes tipe 2 (insulien weerstandige tipe) nie betyds gediagnoseer en behandel word, lei dit tot die volgende tragiese gevolge (Statistiek van Amerika word hier gebruik, omdat 78% van diabete in Suid Afrika nog nie geïdentifiseer is nie). Daar is jaarliks tussen 12 000 – 24 000 diabete in Amerika wat blind word (Diabetes is die grootste oorsaak van blindheid wêreldwyd).
·      Jaarliks ontwikkel meer as 20 % van alle diabete nier probleme
·     Jaarliks is daar 82,000 diabete in Amerika wat ʼn voet of been verloor
·      75 % van sterftes onder diabete is a.g.v. hartprobleme/ hart aanvalle 6
As ons egter sterk aksie neem (uit die pot met warm water spring soos die padda in die verhaal), is dit die eerste groot stap wat ons neem, nadat ons bewus geraak van ʼn kroniese siekte. Indien jy betyds optree kan jou toestand selfs omgekeer word, bv. met van diabetes 2 of hipertensie. Dit is dan die hoofdoel van hierdie webtuiste om jou bewus te maak en te motiveer om hierdie stap te neem om die kroniese siekte wat in jou lyf ontwikkel te stop.

Brein gesondheid is net so belangrik as lyf gesondheid !
Vir baie jare is daar selfs deur kenners gemeen dat ons niks kan doen om die gevreesde alzheimersiekte en ander dementia siektes te kan afweer nie. Daar was die siening dat ons maar hoopvol moet wag vir ’n mediese deurbraak en/of ontdekking van een of ander kuur daarvoor. Terwyl navorsers regoor die wêreld met ’n dolle vaart voortgegaan het met hul soektog na ’n kuur, het die voorkoms van alzheimersiekte skerp gestyg die afgelope paar dekades en dra dit by tot 50% van alle gevalle van dementia.

Die Oscarbekroonde fliek “Iris” (2001) het oor alzheimersiekte gehandel. In die rolprent is ’n aangrypende toneel waar Iris uit haar Oxford-huis strompel. Om haar woel die besige stad. Sy is egter in ’n wêreld van haar eie vasgevang; gedisoriënteerd, deurmekaar met leë oë en uitdrukkinglose gesig. Haar man soek vervaard straat op en af na haar. Uiteindelik vind ’n ou vriend haar en bring haar huis toe. Haar man koester haar saggies in sy arms en vra:“Wou jy my verlaat?” Maar in haar kop het sy reeds die wete dat die huisdokter, wat haar voorheen ondersoek het, na die siekte as “onverbiddelik” verwys het.“Maar dit sal ons nie onderkry nie” het haar man hoopvol gereageer.“Dit sál wen,” het die dokter geantwoord: “Alzheimersiekte is ongeneeslik.”


Tans weet ons dat dementia en alzheimersiekte wel grootliks gestuit kan word en vandag is daar ’n skerp gesondheidsfokus op die voorkoming van die gevreesde siekte. Jy kan die risiko om dit te ontwikkel drasties verlaag deur jou leefstyl te verander en selfs die proses van agteruitgang omkeer. Dieselfde risikofaktore wat lei tot die ontwikkeling van kardiovaskulêre hartsiektes in die middeljare, kan ook die risiko van alzheimersiekte op jou oudag verhoog.
’n Onlangse 35-jaar lange internasionale studie5 waaraan 2,235 mans tussen die ouderdom van 45 en 59 deelgeneem het, het aangetoon dat die volgende leefstylfaktore die voorkoms van dementia en alzheimersiekte kan verlaag, naamlik: 
1. Gereelde fisiese oefeninge. 
2. Afwesigheid van die rookgewoonte. 
3. Handhawing van ’n ideale liggaamsgewig. 
4. Gesonde eetgewoontes en 
5. ’n Lae alkoholverbruik.
Indien vier van hierdie vyf lewensgewoontes gehandhaaf word, kan die risiko vir dementia met 60% verlaag word. 

Bronne geraadpleeg:

  1. World Health Organisation (WHO); 2014 Global status report on non-communicable diseases 2014.
  2. WHO. 2005. Preventing Chronic Diseases: a vital investment. Geneva, World Health Organization.
  3. WHO. 2008. Interventions on diet and physical activity .What works? Geneva, World Health Organization.
  4. Hartsiektes moor meer as kanker. (www.voelgoed.co.za/... Hartsiektes-moor-meer-kanker)(Geraadpleeg op 15 Augustus 2015).
  5. Elwood, P., Galante, J., Pickering, J., Palmer, S., Bayer, A., et al. (2013) Healthy Lifestyles Reduce the Incidence of Chronic Diseases and Dementia: Evidence from the Caerphilly Cohort Study. PLoS ONE 8(12):e81877. doi: 10.1371/journal.pone.008187.