Showing posts with label Jou lyf is joune. Show all posts
Showing posts with label Jou lyf is joune. Show all posts

Wednesday, 27 July 2016

LYF GESONDHEID - Is jy bang Jan of dooie Jan

Laat waai, ou maat ! Dis darem lekker by die ‘merry-go-around’. Die opwinding in die duikbommer of die groot sensasie op die kermiswiel is darem lekker. En hierna gaan ry ons spooktrein en skrik ons, ons skoon uit ons verstand uit. Hoekom is dit vir mense soms so lekker om aksie te belewe? Waarom klim mense die hoogste berge, spring uit vliegtuie en doen gevaarlike toertjies? Die antwoord lê in die effek van die hormoon adrenalien wat deur die byniere (endokriene kliere wat bo-op niere geleë is) afgeskei word. Mense raak verslaaf aan die hormoon en word adrenalien vrate 1. Dit is egter nie die doel van die hormoon dat ons verslaaf daaraan moet word nie. Adrenalien word afgeskei as jy in gevaar is ! Dan moet jy besluit of jy moet vlug (bang Jan) of moet veg (en miskien dooie Jan wees). Hierdie hormoon het ons voorgeslagte van toeka gehelp as gevaar dreig. Jou grootjie in die veld word deur ʼn gevaarlike slang bedreig. Sy liggaam skei adrenalien af, wat hom meer spoed en krag gee; sy hartklop verhoog en voedingstowwe en suurstof word voorsien aan die spiere. Terselfdertyd vergroot adrenalien die pupille van sy oë sodat hy die slang beter kan sien. Die hormoon verwyd sy longpypies en hy kan beter asemhaal; die spiertjies in die wande van die slagare trek saam sodat die are effens vernou om die bloed vinniger te laat beweeg, dit wil sê die bloeddruk styg. Senuweegeleiding versnel om die brein vinniger te laat werk (om planne te maak) en boodskappe vinniger by die spiere te kry vir aksie. Jy is meer prikkelbaar en ratser. Verder word liggaamsprosesse soos spysvertering en urinering onderdruk, want dit word nie nou benodig. Dit alles het hom gereed gemaak vir aksie van watter aard ook al (sogenaamde ‘veg of vlug’ respons). 

Die hoofdoel van adrenalien is om jou meer paraat te maak as jy in gevaar verkeer. Dit gee jou bomenslike krag en uithou vermoeë.

As vrees ons ʼn super mens maak!

2006 – Tucson, Ariz.: Tim Boyle sien hoedat ʼn Chevrolet Camaro die 18-jarige Kyle Holtrust tref en bo-op die seun beland. Holtrust is deur die motor vasgepen en lewe nog. Boyle hardloop na die ongelukstoneel en lig die kar op terwyl die bestuurder van die kar die tiener onder die kar uit trek.

Hoe het Holtrust dit reggekry om alleen die swaar motor op te lig. Kenners is dit eens dat die bomenslike krag wat in hierdie, en soortgelyke gevalle, openbaar word die uitwerking van adrenalien op die menslike liggaam is. 2

Die hormoon moet egter net vir ʼn kort tyd ʼn effek op jou lyf hê. Volgehoue vrystelling van die hormoon oor langer periodes kan nadelig vir jou lyf wees. Sodra jy weg is van die gevaar en ontspan moet die afskeiding van adrenalien daal en moet daar ʼn ewewig in tree. Hierdie ewewig word aangehelp deur die parasimpatiese senuwees wat die teenoorgestelde uitwerking op jou lyf het. Onder andere sal verhoogde parasimpatiese stimulasie jou meer ontspanne maak; jou spysvertering aanhelp en selfs beter laat slaap –ʼn ‘rus- verteer’ respons (sien figuur ). Uitgerekte spanning en ʼn verhoogde adrenalien afskeiding versnel ook die verouderingsproses en word vereenselwig met onder meer spysverteringsiektes, hoë bloeddruk asook hartaanvalle. As jy op stimulante leef wat die vrystelling van adrenalien stimuleer (soos koffie, sigarette, diëte met hoë suikerinhoude), kan dit ook die balans van die skildklier versteur. Dit vertraag jou metabolisme en jy kan gewig optel 3.

Figuur: Simpatiese aktiwiteit (verhoogde adrenalien vrystelling) moet gebalanseer word met parasimpatiese aktiwiteit (verlaagde adrenalien vrystelling)

Refleksie – aktiwiteit: Voel jou lyf se ‘veg of vlug’ response
In hierdie refleksie- aktiwiteit moet jy besin oor ervarings in jou lyf wat jy in die verlede beleef het toe jy blootgestel was aan die ‘veg of vlug’ respons. Hierdeur maak jy sin van jou belewenisse en leer daaruit vir toekomstige besluite en optrede.
Dink terug hoe jy in jou lyf gevoel het toe jy tydelik aan spanning bloot gestel was (bedreig is deur gevaar/ byna in ʼn motorongeluk betrokke was ens.) of doen hierdie aktiwiteit as jy iets moet doen wat spanningvol is (voordat jy ʼn toespraak moet lewer of aan ʼn wedstryd gaan deelneem).
Skryf ook ʼn verklaring vir wat jy gevoel het in die regterkantse kolom van die onderstaande tabel. (Moenie die antwoord lees aan die einde, voordat jy jou eie verklaring neergeskryf het)

Tabel: Jou verklarings oor simptome as jy spanning ontwikkel

 Bronnelys:
  1. Van der Merwe, Lydia. Gedryf deur adrenalien! (www.sarie.com/gesond/.../gedryf-deur-adrenalien)
  2. https://en.wikipedia.org/wiki/Hysterical strength
  3. www.hormone.org/hormones-and-health/what-do-hormones-do/adrenaline

Wednesday, 6 July 2016

LYF GESONDHEID - Die ewewigbeheer in jou lyf

Onthou: Soos reeds genoem in deel 1 kan jy hierdie poging van jou lyf om ewewig te handhaaf duidelik voel as jy begin luister na die taal van jou lyf. Jy sal ook voel as jou lyf uit ewewig raak en dan daarop reageer en dit regstel. Jy kan beheer uitoefen oor om ‘weer goed te voel’.

Hoe kry jou lyf dit reg om ewewig te handhaaf? Die heel belangrikste meganisme wat jou liggaam gebruik om hierdie ewewig in jou liggaam te bewerkstellig, is deur middel van negatiewe terugvoer. Dit vind in ʼn kringloop plaas en om dit te verduidelik sal ons na temperatuurregulering verwys (Sien deel 1): As die bloed temperatuur styg bokant normaal, sal spesiale reseptore in die hipotalamus van die brein dit waarneem. Hierdie reseptore raak gestimuleer en stuur senuboodskappe na die temperatuurregulerings sentrum in die verlengde rugmurg, wat dat senuweeboodskappe (impulse) na verskeie effektor organe in jou lyf stuur. In die geval van temperatuur regulering is hierdie effektororgane veral die velbloedvate wat verwyd en die sweetkliere wat geaktiveer word. Meer bloed vloei na jou vel (vertoon rooi) en jy verloor meer hitte deur die vel. Ook sweet jy meer wat jou liggaam verder afkoel. Jou bloedtemperatuur daal terug na normaal en die stimulasie van die reseptore in die hipotalamus stop (negatiewe terugvoer) 1.

Watter organe bewerk ewewig in jou lyf

Jy moes al teen hierdie tyd agtergekom het dat daar verskeie organe in jou lyf is wat betrokke is by die handhawing van ewewig.
  • By temperatuur regulering sal die vel (ja jy het reg gelees, die vel is ook ʼn orgaan) ʼn rol speel in temperatuur regulering. Op ʼn koue dag sal jou vel ʼn groot rol speel, maar die skelet spiere sal ook betrek word.

  • In die regulering van ʼn konstante water balans en ʼn konstante pH sal die niere die hoof regulerings organe wees, maar die longe en vel sal ook ʼn rol speel. 

  • In die handhawing van ʼn konstante glukose  vlak in die bloed sal die pankreas; lewer en skeletspiere ʼn rol speel 2.

  • Hoewel verskillende organe ʼn rol speel in homeostase is dit egter twee stelsels wat homeostase beheer. Hierdie twee stelsels is die senuwee stelsel en die endokriene (hormoon) stelsels. Beide die twee stelsels oefen beheer oor jou liggaam uit. Dit beheer spesifieke organe of weefsel wat in die liggaam versprei kan wees (teiken organe). Die beheer verskil van mekaar soos in figuur 1 gesien kan word 3.

Figuur 1: Beheer verskille tussen senuwee stelsel en endokriene stelsel


Senuwee beheer: Ons het reeds gefokus op die rol van jou senuweestelsel in die handhawing van homeostase. Dit is nie alleen die temperatuurregulerings beheersentrum wat in die verlengde rugmurg  (medulla oblongata) geleë is nie, maar dié area van die senuwee stelsel bevat ook talle ander beheersentrums, soos:
  •        Respiratoriese sentrum wat asemhaling beheer
  •        Kardio – sentrum wat hartsnelheid beheer
  •        Refleks sentrums wat prosesse soos sluk, hoes, opgooi en nies beheer

Hormoon beheer: ʼn Hormoon is ʼn chemiese stof wat deur die bloedstroom versprei word om die aktiwiteite van ander dele van die liggaam te beïnvloed. Verskillende endokriene kliere produseer verskillende hormone, wat elk ’n belangrike funksie het. Die vernaamste endokrien kliere sluit die byniere, pituïtêre, skild- en geslagskliere in (sien figuur 1). Sekere organe, soos die brein, maag en pankreas, produseer ook hormone.
Integrasie tussen die senuwee en endokriene stelsel: Jou senuweestelsel en endokriene stelsel werk ook saam om die effekte in jou lyf te balanseer. Die afskeiding van adrenalien en noradrenalien is ʼn goeie voorbeeld van die integrasie tussen die twee beheerstelsels. Adrenalien en noradrenalien word as katecholamiene geklassifiseer en het dieselfde uitwerking op die liggaam. Alhoewel die twee hormone chemies baie naverwant is aan mekaar is adrenalien die sterker een van die twee boeties. Noradrenalien word deur die eindpunte van die simpatiese senuweestelsel  afgeskei, waar hul verantwoordelik is vir die oordrag van impulse aan effektor organe soos jou dermkanaal; hart en bloedvate ens. Daarom word hul neurohormone genoem. Adrenalien (nie noradrenalien) word in groot hoeveelhede (selfs 300 keer meer as normaalweg) deur die byniere direk in die bloed as ʼn hormoon afgeskei word.
Groot hoeveelhede van die hormoon word veral gedurende die sogenaamde ‘veg of vlug’ respons afgeskei. Die sogenaamde ‘adrenalin-rush’ wat jy soms in jou lyf voel is ’n wesenlike deel van ons bestaan (sien deel 3).

Balanseer jou hormone en herstel die ewewig in jou lyf 4,5
·  Neem minder suiker en ander stimulante in. Hoe meer afhanklik jy daarvan is, hoe meer gaan jou bloedsuikervlak wissel en lae bloedsuikervlakke stimuleer die vrystelling van adrenalien. Die byniere dink jy is besig om te sterf en gaan in die “veg of vlug“-modus (sien deel 3).
·    Neem ’n omega-vetsuur-aanvulling. Dis die boublokke waaruit die liggaam baie van sy hormone vervaardig.
·   n Gereelde stoelgang, minstens 1 keer per dag, voorkom dat gifstowwe in jou liggaam opbou.
·   Reguleer jou liggaam se pH-balans (alkalies vs suur). Jou liggaam neig na suur, eet dus alkalies vormende kos, veral vars of gestoomde groente. Of drink vars sap (bv. beet, wortels, spinasie, pietersielie, seldery, kruisement, radyse en appels). Vermy verwerkte kosse 4.
·    Jou niere speel ’n belangrike rol om die pH-balans te handhaaf. Drink 6 tot 8 glase water per dag
·    Oefen, oefen, oefen. Navorsing toon hoe fikser jy is, hoe laer is die vlakke van streshormone.

Bronne:
1.    Blessing W. 1997. The Lower Brainstem and Bodily Homeostasis. New York: Oxford University Press.
2.    Cannon W. B. 1932. The Wisdom of the Body. New York: W. W. Norton.
3.    Sherwood, L.S. Essentials of Physiology. 4th Edition. 2006. Brooks/Cole Publishers. U.S.A. 650 pages.
5.    New Optimum Nutrition Bible deur Patrick Holford (Piatkus, 2004).

LYF GESONDHEID - Jou lyf praat 'n taal (Deel 1)

Konstantheid in jou lyf is ʼn saak van lewe en dood. Hierdie konstantheid of ewewig verwys na die handhawing van ʼn konstante liggaamstemperatuur; suurstof en koolstofdioksied vlakke, voedingstofvlakke, soutvlakke (soute soos natrium, magnesium, kalsium ens); pH (suurgraad) ens in die bloed, maar ook in elke sel van ons liggaam. Alle lewende selle in ons liggaam benodig hierdie konstante omgewing en om te kan lewe, moet dit konstant gehou word. Lewende selle het dus ʼn konstante interne omgewing nodig, al wissel die eksterne omgewing buite die menslike liggaam 1, 2. In die poginge wat jou lyf aanwend om hierdie konstantheid in sy interne omgewing te handhaaf, vertoon dit uiterlike reaksies (simptome) wat as’t ware beskou kan word as jou liggaam se metode om met jou ‘te praat’. As jy in noue kontak is met jou lyf, sal jy begin agterkom dat hierdie simptome ʼn aanduiding is van wat in jou lyf gebeur. Deur betekenis daaraan te gee, kan jy sin aan jou belewenisse gee.

Refleksie – aktiwiteit 1: Jou lyf se reaksie op ʼn warm dag en ʼn koue dag
Dink terug aan hoe jy in jou lyf gevoel het op a) ʼn warm dag en b) koue dag. Skryf die gevoel wat jy ervaar het sowel as ʼn verklaring daarvoor in die oop spasies van die regterkantse kolom neer. Jy kan die riglyne volg wat as vrae gestel word.

Tabel: Verstaan jou lyftaal

Verklaring vir jou waarnemings op ʼn warm dag:


Verklaring vir jou waarnemings op ʼn koue dag:


Bronne:
1.    Blessing W. 1997. The Lower Brainstem and Bodily Homeostasis. New York: Oxford University Press.
2.    Cannon W. B. 1932. The Wisdom of the Body. New York: W. W. Norton.
3.    Sherwood, L.S. Essentials of Physiology. 4th Edition. 2006. Brooks/Cole Publishers. U.S.A. 650 pages.