Saturday 25 June 2016

BREIN GESONDHEID - Beskerming van die brein

 Die beskerming van ons brein kan in twee afdelings verdeel word, naamlik:
ü Beskerming van die brein deur strukture waarmee jy gebore is. Dit is deur God daargestel toe Hy jou “kunstig in die moederskoot aanmekaar geweef het”. Ons beskou dit as die eerste lyn van beskerming en jy het nie beheer daaroor nie.
ü Daar is egter ’n tweede lyn van beskerming waaroor jy wel beheer het.

Eerste lyn van beskerming:
Hier dink ons aan die fisiese beskerming van die brein deur die harde skedel. Die dik, harde been van die skedel beskerm die 100 biljoen neurone (senuselle) van die sagte brein. Verder is daar ook die beskerming en voeding van die brein deur die drie membrane, naamlik: dura mater, aragnoïede en pia mater, wat geleë is tussen die benige skedel en die breinweefsel 2 (sien Figuur 1).
v Die brein moet voorsien word van ’n konstante konsentrasie van suurstof en voedingstowwe (glukose). Hierdie noodsaaklike stowwe diffundeer met groot gemak uit die selektiefdeurlaatbare bloedvaatjies (laat slegs sekere stowwe deur), deur die twee binneste vliese in die breinweefsel.
v Die aragnoïede membraan is ryklik voorsien van ’n netwerk van fyn kapillêre bloedvaatjies (wat dit die voorkoms van ’n spinnerakvlies gee) waardeur voedingstowwe en suurstof aan die brein voorsien word.

Figuur 1. Die beskerming van die brein deur die skedel en breinvliese


(Bron: Human Physiology. L. Sherwood - Cengage learning)

Het jy geweet ? 

Die brein gebruik 20% van die suurstof en 50% van die glukose (bloedsuiker) wat die totale liggaam verbruik.
o  Alhoewel die brein net 2% van die liggaamsmassa verteenwoordig, kry dit 15% van die totale liggaam se bloedvoorsiening.

Hierdie selektiefdeurlaatbaarheid is hoofsaaklik ’n funksie van die bloedvate op die spinnerakvlies, omdat die selle (endoteelselle*) waaruit die bloedvaatjies opgebou is, baie styf teen mekaar pas. Daar bestaan dus geen openinge (porieë) tussen die selle, soos in die geval by ander bloedvate in die liggaam, waardeur groter molekules kan beweeg nie.
Die enigste moontlike pad is om regdeur die bloedvatselle te beweeg. Die buitenste vetlagie van die selmembrane van hierdie bloedvatselle sal egter net vetoplosbare stowwe (’n vet los op in ’n vet) deurlaat. Sekere vetoplosbare stowwe soos suurstof, koolstofdioksied en steroïed hormone kan dus oplos in die membraan en deurbeweeg. Ander goeie stowwe, soos ione, glukose en aminosure word deur spesiale draermolekules deur die membraan gedra.
Die meeste skadelike stowwe is egter wateroplosbaar en kan nie oplos in die membraan nie. Daar bestaan ook geen draermolekules hiervoor nie – vandaar die selektiewe deurlaatbaarheidskarakter van hierdie bloed-brein skans*. Ongelukkig kan die bloed-brein-versperring slegs voorkom dat groter, gevaarlike, ongewenste molekules, soos toksiene (gifstowwe) en verdowingsmiddels die brein kan beskadig, maar dit is nie ’n effektiewe versperring teen kleiner, skadelike molekules soos die metaboliete van alkohol nie.


Tweede lyn van beskerming:
Die tweede lyn van beskerming word verskaf deur die handhawing van gesonde leefstyl gewoontes. Vir hierdie deel van breinbeskerming is jy grootliks self voor verantwoordelik.(Figuur2.2)
Navorsing3 - 5 het getoon dat jou breingesondheid veral op sewe leefstylpilare rus, naamlik:
§  Gesonde dieet
§  Aktiewe sosiale interaksie
§  Brein-oefening
§  Genoeg slaap
§  ’n Stresvrye lewe
§  Gereelde fisiese oefening en
§  ’n toksienvrye omgewing


Figuur 2 Die geïntegreerde breinbeskermingsmodel



Bronne:
1.    Sherwood, L.S. Essentials of Physiology.  4 th Edition. 2006. Brooks/Cole Publishers. U.S.A. 650 pages.
2.    Liu R, Sui X, Laditka JN, Church TS, Colabianchi N, et al. (2012).Cardiorespiratory fitness as a predictor of dementia mortality in men and women. Med Sci Sports Exerc 44: 253–259.
3.    Buchman AS, Boyle PA, Yu L, Shah RC, Wilson RS, et al. 2012. Total daily physical activity and the risk of AD and cognitive decline in older adults. Neurology 78: 1323–1329.
4.    Williams JW, Plassman BL, Burke J, Benjamin S. 2010. Preventing Alzheimer’s disease and cognitive decline. Evid Rep Technol Assess (Full Rep) 1–727.

No comments:

Post a Comment