Wednesday, 27 July 2016

LYF GESONDHEID - Is jy bang Jan of dooie Jan

Laat waai, ou maat ! Dis darem lekker by die ‘merry-go-around’. Die opwinding in die duikbommer of die groot sensasie op die kermiswiel is darem lekker. En hierna gaan ry ons spooktrein en skrik ons, ons skoon uit ons verstand uit. Hoekom is dit vir mense soms so lekker om aksie te belewe? Waarom klim mense die hoogste berge, spring uit vliegtuie en doen gevaarlike toertjies? Die antwoord lê in die effek van die hormoon adrenalien wat deur die byniere (endokriene kliere wat bo-op niere geleë is) afgeskei word. Mense raak verslaaf aan die hormoon en word adrenalien vrate 1. Dit is egter nie die doel van die hormoon dat ons verslaaf daaraan moet word nie. Adrenalien word afgeskei as jy in gevaar is ! Dan moet jy besluit of jy moet vlug (bang Jan) of moet veg (en miskien dooie Jan wees). Hierdie hormoon het ons voorgeslagte van toeka gehelp as gevaar dreig. Jou grootjie in die veld word deur ʼn gevaarlike slang bedreig. Sy liggaam skei adrenalien af, wat hom meer spoed en krag gee; sy hartklop verhoog en voedingstowwe en suurstof word voorsien aan die spiere. Terselfdertyd vergroot adrenalien die pupille van sy oë sodat hy die slang beter kan sien. Die hormoon verwyd sy longpypies en hy kan beter asemhaal; die spiertjies in die wande van die slagare trek saam sodat die are effens vernou om die bloed vinniger te laat beweeg, dit wil sê die bloeddruk styg. Senuweegeleiding versnel om die brein vinniger te laat werk (om planne te maak) en boodskappe vinniger by die spiere te kry vir aksie. Jy is meer prikkelbaar en ratser. Verder word liggaamsprosesse soos spysvertering en urinering onderdruk, want dit word nie nou benodig. Dit alles het hom gereed gemaak vir aksie van watter aard ook al (sogenaamde ‘veg of vlug’ respons). 

Die hoofdoel van adrenalien is om jou meer paraat te maak as jy in gevaar verkeer. Dit gee jou bomenslike krag en uithou vermoeë.

As vrees ons ʼn super mens maak!

2006 – Tucson, Ariz.: Tim Boyle sien hoedat ʼn Chevrolet Camaro die 18-jarige Kyle Holtrust tref en bo-op die seun beland. Holtrust is deur die motor vasgepen en lewe nog. Boyle hardloop na die ongelukstoneel en lig die kar op terwyl die bestuurder van die kar die tiener onder die kar uit trek.

Hoe het Holtrust dit reggekry om alleen die swaar motor op te lig. Kenners is dit eens dat die bomenslike krag wat in hierdie, en soortgelyke gevalle, openbaar word die uitwerking van adrenalien op die menslike liggaam is. 2

Die hormoon moet egter net vir ʼn kort tyd ʼn effek op jou lyf hê. Volgehoue vrystelling van die hormoon oor langer periodes kan nadelig vir jou lyf wees. Sodra jy weg is van die gevaar en ontspan moet die afskeiding van adrenalien daal en moet daar ʼn ewewig in tree. Hierdie ewewig word aangehelp deur die parasimpatiese senuwees wat die teenoorgestelde uitwerking op jou lyf het. Onder andere sal verhoogde parasimpatiese stimulasie jou meer ontspanne maak; jou spysvertering aanhelp en selfs beter laat slaap –ʼn ‘rus- verteer’ respons (sien figuur ). Uitgerekte spanning en ʼn verhoogde adrenalien afskeiding versnel ook die verouderingsproses en word vereenselwig met onder meer spysverteringsiektes, hoë bloeddruk asook hartaanvalle. As jy op stimulante leef wat die vrystelling van adrenalien stimuleer (soos koffie, sigarette, diëte met hoë suikerinhoude), kan dit ook die balans van die skildklier versteur. Dit vertraag jou metabolisme en jy kan gewig optel 3.

Figuur: Simpatiese aktiwiteit (verhoogde adrenalien vrystelling) moet gebalanseer word met parasimpatiese aktiwiteit (verlaagde adrenalien vrystelling)

Refleksie – aktiwiteit: Voel jou lyf se ‘veg of vlug’ response
In hierdie refleksie- aktiwiteit moet jy besin oor ervarings in jou lyf wat jy in die verlede beleef het toe jy blootgestel was aan die ‘veg of vlug’ respons. Hierdeur maak jy sin van jou belewenisse en leer daaruit vir toekomstige besluite en optrede.
Dink terug hoe jy in jou lyf gevoel het toe jy tydelik aan spanning bloot gestel was (bedreig is deur gevaar/ byna in ʼn motorongeluk betrokke was ens.) of doen hierdie aktiwiteit as jy iets moet doen wat spanningvol is (voordat jy ʼn toespraak moet lewer of aan ʼn wedstryd gaan deelneem).
Skryf ook ʼn verklaring vir wat jy gevoel het in die regterkantse kolom van die onderstaande tabel. (Moenie die antwoord lees aan die einde, voordat jy jou eie verklaring neergeskryf het)

Tabel: Jou verklarings oor simptome as jy spanning ontwikkel

 Bronnelys:
  1. Van der Merwe, Lydia. Gedryf deur adrenalien! (www.sarie.com/gesond/.../gedryf-deur-adrenalien)
  2. https://en.wikipedia.org/wiki/Hysterical strength
  3. www.hormone.org/hormones-and-health/what-do-hormones-do/adrenaline

Wednesday, 6 July 2016

LYF GESONDHEID - Die ewewigbeheer in jou lyf

Onthou: Soos reeds genoem in deel 1 kan jy hierdie poging van jou lyf om ewewig te handhaaf duidelik voel as jy begin luister na die taal van jou lyf. Jy sal ook voel as jou lyf uit ewewig raak en dan daarop reageer en dit regstel. Jy kan beheer uitoefen oor om ‘weer goed te voel’.

Hoe kry jou lyf dit reg om ewewig te handhaaf? Die heel belangrikste meganisme wat jou liggaam gebruik om hierdie ewewig in jou liggaam te bewerkstellig, is deur middel van negatiewe terugvoer. Dit vind in ʼn kringloop plaas en om dit te verduidelik sal ons na temperatuurregulering verwys (Sien deel 1): As die bloed temperatuur styg bokant normaal, sal spesiale reseptore in die hipotalamus van die brein dit waarneem. Hierdie reseptore raak gestimuleer en stuur senuboodskappe na die temperatuurregulerings sentrum in die verlengde rugmurg, wat dat senuweeboodskappe (impulse) na verskeie effektor organe in jou lyf stuur. In die geval van temperatuur regulering is hierdie effektororgane veral die velbloedvate wat verwyd en die sweetkliere wat geaktiveer word. Meer bloed vloei na jou vel (vertoon rooi) en jy verloor meer hitte deur die vel. Ook sweet jy meer wat jou liggaam verder afkoel. Jou bloedtemperatuur daal terug na normaal en die stimulasie van die reseptore in die hipotalamus stop (negatiewe terugvoer) 1.

Watter organe bewerk ewewig in jou lyf

Jy moes al teen hierdie tyd agtergekom het dat daar verskeie organe in jou lyf is wat betrokke is by die handhawing van ewewig.
  • By temperatuur regulering sal die vel (ja jy het reg gelees, die vel is ook ʼn orgaan) ʼn rol speel in temperatuur regulering. Op ʼn koue dag sal jou vel ʼn groot rol speel, maar die skelet spiere sal ook betrek word.

  • In die regulering van ʼn konstante water balans en ʼn konstante pH sal die niere die hoof regulerings organe wees, maar die longe en vel sal ook ʼn rol speel. 

  • In die handhawing van ʼn konstante glukose  vlak in die bloed sal die pankreas; lewer en skeletspiere ʼn rol speel 2.

  • Hoewel verskillende organe ʼn rol speel in homeostase is dit egter twee stelsels wat homeostase beheer. Hierdie twee stelsels is die senuwee stelsel en die endokriene (hormoon) stelsels. Beide die twee stelsels oefen beheer oor jou liggaam uit. Dit beheer spesifieke organe of weefsel wat in die liggaam versprei kan wees (teiken organe). Die beheer verskil van mekaar soos in figuur 1 gesien kan word 3.

Figuur 1: Beheer verskille tussen senuwee stelsel en endokriene stelsel


Senuwee beheer: Ons het reeds gefokus op die rol van jou senuweestelsel in die handhawing van homeostase. Dit is nie alleen die temperatuurregulerings beheersentrum wat in die verlengde rugmurg  (medulla oblongata) geleë is nie, maar dié area van die senuwee stelsel bevat ook talle ander beheersentrums, soos:
  •        Respiratoriese sentrum wat asemhaling beheer
  •        Kardio – sentrum wat hartsnelheid beheer
  •        Refleks sentrums wat prosesse soos sluk, hoes, opgooi en nies beheer

Hormoon beheer: ʼn Hormoon is ʼn chemiese stof wat deur die bloedstroom versprei word om die aktiwiteite van ander dele van die liggaam te beïnvloed. Verskillende endokriene kliere produseer verskillende hormone, wat elk ’n belangrike funksie het. Die vernaamste endokrien kliere sluit die byniere, pituïtêre, skild- en geslagskliere in (sien figuur 1). Sekere organe, soos die brein, maag en pankreas, produseer ook hormone.
Integrasie tussen die senuwee en endokriene stelsel: Jou senuweestelsel en endokriene stelsel werk ook saam om die effekte in jou lyf te balanseer. Die afskeiding van adrenalien en noradrenalien is ʼn goeie voorbeeld van die integrasie tussen die twee beheerstelsels. Adrenalien en noradrenalien word as katecholamiene geklassifiseer en het dieselfde uitwerking op die liggaam. Alhoewel die twee hormone chemies baie naverwant is aan mekaar is adrenalien die sterker een van die twee boeties. Noradrenalien word deur die eindpunte van die simpatiese senuweestelsel  afgeskei, waar hul verantwoordelik is vir die oordrag van impulse aan effektor organe soos jou dermkanaal; hart en bloedvate ens. Daarom word hul neurohormone genoem. Adrenalien (nie noradrenalien) word in groot hoeveelhede (selfs 300 keer meer as normaalweg) deur die byniere direk in die bloed as ʼn hormoon afgeskei word.
Groot hoeveelhede van die hormoon word veral gedurende die sogenaamde ‘veg of vlug’ respons afgeskei. Die sogenaamde ‘adrenalin-rush’ wat jy soms in jou lyf voel is ’n wesenlike deel van ons bestaan (sien deel 3).

Balanseer jou hormone en herstel die ewewig in jou lyf 4,5
·  Neem minder suiker en ander stimulante in. Hoe meer afhanklik jy daarvan is, hoe meer gaan jou bloedsuikervlak wissel en lae bloedsuikervlakke stimuleer die vrystelling van adrenalien. Die byniere dink jy is besig om te sterf en gaan in die “veg of vlug“-modus (sien deel 3).
·    Neem ’n omega-vetsuur-aanvulling. Dis die boublokke waaruit die liggaam baie van sy hormone vervaardig.
·   n Gereelde stoelgang, minstens 1 keer per dag, voorkom dat gifstowwe in jou liggaam opbou.
·   Reguleer jou liggaam se pH-balans (alkalies vs suur). Jou liggaam neig na suur, eet dus alkalies vormende kos, veral vars of gestoomde groente. Of drink vars sap (bv. beet, wortels, spinasie, pietersielie, seldery, kruisement, radyse en appels). Vermy verwerkte kosse 4.
·    Jou niere speel ’n belangrike rol om die pH-balans te handhaaf. Drink 6 tot 8 glase water per dag
·    Oefen, oefen, oefen. Navorsing toon hoe fikser jy is, hoe laer is die vlakke van streshormone.

Bronne:
1.    Blessing W. 1997. The Lower Brainstem and Bodily Homeostasis. New York: Oxford University Press.
2.    Cannon W. B. 1932. The Wisdom of the Body. New York: W. W. Norton.
3.    Sherwood, L.S. Essentials of Physiology. 4th Edition. 2006. Brooks/Cole Publishers. U.S.A. 650 pages.
5.    New Optimum Nutrition Bible deur Patrick Holford (Piatkus, 2004).

LYF GESONDHEID - Jou lyf praat 'n taal (Deel 1)

Konstantheid in jou lyf is ʼn saak van lewe en dood. Hierdie konstantheid of ewewig verwys na die handhawing van ʼn konstante liggaamstemperatuur; suurstof en koolstofdioksied vlakke, voedingstofvlakke, soutvlakke (soute soos natrium, magnesium, kalsium ens); pH (suurgraad) ens in die bloed, maar ook in elke sel van ons liggaam. Alle lewende selle in ons liggaam benodig hierdie konstante omgewing en om te kan lewe, moet dit konstant gehou word. Lewende selle het dus ʼn konstante interne omgewing nodig, al wissel die eksterne omgewing buite die menslike liggaam 1, 2. In die poginge wat jou lyf aanwend om hierdie konstantheid in sy interne omgewing te handhaaf, vertoon dit uiterlike reaksies (simptome) wat as’t ware beskou kan word as jou liggaam se metode om met jou ‘te praat’. As jy in noue kontak is met jou lyf, sal jy begin agterkom dat hierdie simptome ʼn aanduiding is van wat in jou lyf gebeur. Deur betekenis daaraan te gee, kan jy sin aan jou belewenisse gee.

Refleksie – aktiwiteit 1: Jou lyf se reaksie op ʼn warm dag en ʼn koue dag
Dink terug aan hoe jy in jou lyf gevoel het op a) ʼn warm dag en b) koue dag. Skryf die gevoel wat jy ervaar het sowel as ʼn verklaring daarvoor in die oop spasies van die regterkantse kolom neer. Jy kan die riglyne volg wat as vrae gestel word.

Tabel: Verstaan jou lyftaal

Verklaring vir jou waarnemings op ʼn warm dag:


Verklaring vir jou waarnemings op ʼn koue dag:


Bronne:
1.    Blessing W. 1997. The Lower Brainstem and Bodily Homeostasis. New York: Oxford University Press.
2.    Cannon W. B. 1932. The Wisdom of the Body. New York: W. W. Norton.
3.    Sherwood, L.S. Essentials of Physiology. 4th Edition. 2006. Brooks/Cole Publishers. U.S.A. 650 pages.


BREIN GESONDHEID - Voed jou brein (Deel 3)

In deel 3 van breinvoeding sal veral gekyk word na watter voedingstowwe belangrik is vir effektiewe impuls oordrag tussen die miljoene senuselle in ons brein.


Figuur 1: Diagram om die bou van ‘n enkele senusel (neuron) aan te toon.

1.1.  Neuro-oordragstowwe dra impulse oor die sinaps tussen neurone

Daar is ’n klein opening — die sinaps — tussen die aksoneindpunt en die volgende neuron. Spesiale chemikalieë dra impulse oor die gaping. Die impuls beweeg dan verder met die senuweenetwerk langs. Elke presinaptiese neuron (neuron voor die sinaps) kan slegs een soort oordragstof vrystel. Hierdie oordragstof bind met reseptore op die postsinapties membraan (neuron na sinaps) wat dan veroorsaak dat die impuls oor die sinaps gedra word en verder in die senuweebaan gelei word (sien Figuur 2).Daar bestaan twee soorte sinapse as gevolg van die effek wat die oordragstowwe op die postsinapties membraan het, naamlik:
   -    Prikkelbare sinapse: Die oordragstof sal die postsinapties membraan meer prikkelbaar   maak en dus veroorsaak dat daaropvolgende impulse makliker en vinniger oor die sinaps sal beweeg.

- Inhiberende sinapse: Die oordragstof sal die postsinapties membraan minder prikkelbaar maak en dus veroorsaak dat daaropvolgende impulse nie oor die sinaps sal beweeg nie.

Figuur 2  Die sinaps tussen twee neurone.

Daar bestaan verskillende oordragstowwe wat in die senuweestelsel gebruik word. Van die bekendste van hierdie oordragstowwe is:
Asetielkolien; histamien; dopamien; adrenalien & nor-adrenalien; glutamaat; gamma-aminobottersuur (GABA) en serotonien.
Dieselfde oordragstof het gewoonlik dieselfde effek op die postsinapties membraan, byvoorbeeld: glutamaat (die belangrikste stimulerende oordragstof in die brein) sal altyd impulsgeleiding oor sinapse verhoog, waar GABA (die belangrikste inhiberende oordragstof in die brein) altyd impulsgeleiding oor die sinapse sal blokkeer 1

Die geval van die “gevriesde” dwelmverslaafdes

Gedurende 1982 is Dr. J.W. Langston, ’n Kaliforniese neuroloog, by die stadshospitaal, gekonfronteer deur ’n raaiselagtige mediese probleem wat hy nog nooit voorheen teëgekom het nie. Verskeie jong dwelmverslaafdes is opgeneem in die hospitaal met stokstywe liggaamsposisies. Dit het gelyk of hulle “gevries” was in hul voetspore en kon geen liggaamsbewegings uitvoer nie. Hulle het in dieselfde posisie vir dae in hul hospitaalbeddens gelê sonder die moontlikheid om te praat, te eet of te beweeg. Dr. Langston het deur  intensiewe navorsing op die verslaafdes uiteindelik vasgestel dat hulle die eerstes was wat ’n nuwe “ontwerpers” dwelmmiddel gebruik het wat op die swartmark verkoop is. Die dwelm vernietig die dopamienproduserende selle in ’n sekere deel van die brein, genoem die substantia nigra. Verlaagde dopamien-aktiwiteit het gelei tot die raaiselagtige simptome van hierdie dwelmslawe. ’n Beskadiging van hierdie selfde dopamienvervaardigingselle in die substantia nigra is ook verantwoordelik vir Parkinson se siekte, ’n bewegingsafwyking 2.

Verdowingsmiddels en neurotoksiene beïnvloed die senuweestelsel gewoonlik deur ’n verandering te veroorsaak in die sinaptiese meganisme, byvoorbeeld:
Die verdowingsmiddel kokaïen veroorsaak ’n verhoging in die konsentrasie van die oordragstof, dopamien, in die brein. Te veel dopamien in die brein oorstimuleer die brein. Dit lei tot ’n gevoel van plesier. Waar kokaïen ’n opeenhoping van dopamien tot gevolg het, vind daar in Parkinson se siekte die teenoorgestelde plaas en is daar ’n tekort aan dopamien in die brein wat verantwoordelik is vir oormatige motoriese bewegings.

Voeding wat ’n rol speel in die oordrag van impulse by die sinaps (sien Figuur 1)
Die oordragstowwe gebruik in die oordrag van impulse is afkomstig van aminosure. Ons verkry ons aminosure deur proteïene te eet wat dan in ons spysverteringskanaal afgebreek word na aminosure. Die aminosure word dan uit die dermkanaal opgeneem in die bloedstroom en deur die liggaam gebruik vir die vervaardiging van belangrike molekules soos ensieme, hormone en oordragstowwe. Dit is belangrik om te onthou dat baie van die oordragstowwe ontwikkel uit voorloper molekules 3.
Twee voorbeelde:
· Die aminosuur, fenielalanien, word in ons brein omgeskakel na tirosien (’n aminosuur wat ons in voedsel aantref). Hierna word die tirosien omgeskakel na dopa en dan na dopamien. Dopamien word weer omgeskakel na adrenalien en nor-adrenalien.
· Die aminosuur, triptofaan, word omgeskakel na 5-hidroksietriptofaan (5-HTP) wat dan omgeskakel word na serotonien.

Sekere van die oordragstowwe kan nie oor die bloed-brein skans beweeg nie. In
die voorafgaande voorbeeld kan triptofaan en 5-HTP wel oor die bloed-brein skans
beweeg, maar nie serotonien nie. Om die serotonienvlak in die brein te verhoog, sal ’n
aanvulling van serotonien nie help nie, maar wel ’n aanvulling van 5-HTP of 
triptofaan. Serotonien is ook bekend as die ‘goed-voel’ molekule en navorsing het 
aangetoon dat dit depressie verlig; jou geheue verbeter, jou beter laat slaap, angsvlakke 
verlaag en stres verlig
Proteïene wat vir ons hierdie belangrike aminosuur (triptofaan) verskaf, kom in voedsel voor soos bruinrys, lensies, vis, hoender, eiers, sade en neute, natuurlike joghurt en groente soos ertjies, bone, brokkoli en spinasie4.
Volg ’n bekostigbare, heilsame breinkosdieet
Voedsel kan binne ’n klein begroting steeds voedingsryke proteïene, vrugte en groente insluit. Ons hoef nie noodwendig oesters, neute, salm, forel, haring en makriel in ons breindieet in te sluit nie – daar is ander ewe gesonde alternatiewe. Vervolgens algemene wenke om binne ’n beperkte  begroting gesonde breinkos te kan eet:
-      Koop vrugte en groente in seisoen. Dis altyd goedkoper.
-     Vervang vleis. Kry méér van jou proteïene uit bone, eiers, sojaprodukte en peulgewasse soos lensies.
-     Koop eienaamprodukte. Dis meestal goedkoper – maar vergelyk steeds pryse per gewig of inhoud.
-     Herverpak en vries jou voedsel-inkopies. Herverpak byvoorbeeld net genoeg hoenderstukke of vis vir ’n maaltyd vir jou gesin. Dit keer dat jy te veel kos maak – tensy jy natuurlik vir twee maaltye kook en die gaar kos vries.
-     Koop in grootmaat indien dit produkte is wat lank kan hou.
-     Beplan. Werk ’n maaltydplan vir die week uit en stel jou inkopielys daarvolgens saam. Dit skakel impulsiewe kopies uit, asook die koop van ongesonde kitskos
Bronne:
1.    Holford, P. 2005. Optimum nutrition for the mind. 383 pages. Piatkus. London.

2.   Langston, J.W., 2014. The Case of the Frozen Addicts. IOS Press. 255 p.
3.  Bourre, J.M. 2006. Effects of nutrients (in food) on the structure and function of the nervous system: update on dietary requirements for the brain, part 1: micronutrients. J. Nutr. Health Aging, 10, 377-385.
4.  Gomez-Pinilla, F. 2008. Brain foods: the effects of nutrients on brain function. Nature 9: 568-578.

BREIN GESONDHEID - Voed jou brein (Deel 2)

In deel 2 van breinvoeding sal veral gekyk word na watter voedingstowwe belangrik is vir die onderhoud van die aksone van die miljoene senuselle in ons brein.

Voeding van die aksons met miëlienskedes (vetskedes)

Die brein benodig essensiële vette en fosfolipiede (sien Figuur 1).

Om ’n boodskap te kan interpreteer, moet die boodskap van een senusel na ’n ander gelei word. Boodskappe verlaat die senusel met die hulp van ’n akson (senuvesel). Rondom dié senuvesels is ’n vetlagie waarin omega-vette aangetref word. Daar moet dus genoeg van dié vette in die brein voorkom sodat die senuvesels behoorlik die impulse kan gelei.

Goeie vette en slegte vette
Daar is goeie en slegte vette en dis baie belangrik om die vette nie met mekaar te verwar nie. Die goeie vette is die onversadigde vette*, terwyl die versadigde vette* sleg is vir ons gesondheid. Ons moet onderskei tussen kosse met “goeie vette” en kosse met “slegte vette”. Dit is ook nodig om te weet hoeveel jy van elk mag eet. Die meeste mense wat ’n standaard westerse dieet volg, eet te veel slegte vette en heeltemal te min goeie vette.

· Verlaag die inname van die versadigde vette (trans-vetsure). Hierdie vette kan bydra tot die ontwikkeling van hartsiektes en ’n verhoging van jou kolesterolvlakke. Kosse wat versadigde vetsure bevat: vleis, melk en melkprodukte soos room.
· Verhoog die inname van onversadigde vette. Onversadigde vette word verdeel in mono-onversadigdes* en poli-onversadigdes*. Die omega 3- en 6-vetsure val in die poli-onversadigde groep.

Hierdie poli-onversadigde vetsure moet deur die voedsel wat jy elke dag eet, voorsien word, want die liggaam vervaardig dit nie self nie. Dit is noodsaaklik vir ’n effektiewe breinfunksie sowel as ’n goeie bloedsomloop, goeie sig en ’n gesonde immuunstelsel 1,2.

Fosfolipiede* is ook ’n ander belangrike vet wat ons moet inneem. Dit speel ’n belangrike rol in die instandhouding van neurone. Hoe lyk jou inname van essensiële vette (omega vetsure) en fosfolipiede in jou dieet?




 Interpretasie van jou telling:
-   Telling van 5 en meer: Dit is ’n goeie telling wat daarop dui dat jy waarskynlik        genoegsame goeie vette inkry.
-   Telling van 4 of minder dui moontlik daarop dat jy aandag moet gee aan die inname van   meer goeie vette.

Hoe kan jy meer omega vetsure en fosfolipiede inneem en sodoende die aksone en miëlienskedes opbou (sien Figuur 1)?

  • ʼn Goeie voedselbron van omega 3-vetsure is die volgende:    Olierige vis soos sardientjies, salm, snoek, forel, makriel en haring. Tuna bevat ook omega 3, maar dit moet eerder vars geëet word as geblik. Omega 3 kom in groot hoeveelhede in kouewatervis voor en dit is waarskynlik hoekom ons te min daarvan kry. Die aanbeveling (vir omega 3) is twee tot drie bedienings vis per week.

  • Neute en sade: okkerneute, pampoensade.

  • Olies: Raapsaadolie (canola-olie); lynsaadolie en hennep-olie.

  • Eiers. Dis reg ja, eiers behoort nie net in die kollig te wees tydens Paastyd nie. Eiers, of meer spesifiek die eiergeel, is ’n baie goeie bron van kolien wat jou geheue verbeter. Buiten kolien bevat eiers ook lesitien wat jou brein stimuleer1,2..
Omega 6- inname (kom voor in groente-olies, veral mielie-, sonneblom-, sesam-, okkerneut- en soja-olies) kan voldoende wees deur die voedsel wat ons eet. Veranderings in voedseltegnologie het meegebring dat die huidige westerling se dieet ongeveer 15 dele omega 6 teenoor 1 deel omega 3 bevat, terwyl die ideale verhouding 1 tot 1 is. Hierdie hoë omega 6 tot omega 3 verhouding bevorder talle kroniese siektes terwyl hoër omega 3-vetsuurvlakke neig om kroniese siektes te onderdruk. Dit het derhalwe duidelik geword dat ’n laer omega 6 tot omega 3 verhouding nodig is vir die voorkoming en bestuur van kroniese siektes. 

Dit maak derhalwe goeie wetenskaplike sin om met veral omega 3 aan te vul.  Om dus nader aan 'n gesonde omega 3:6 indeks te beweeg, word aanbeveel dat die inname van omega 3-vetsure verhoog word.

Jy kan ook daagliks salm-oliekapsules as 'n aanvulling drink. As jy dus 'n aanvulling wil koop, koop een wat net omega 3 bevat en nie ook omega 6 nie.
Fosfolipiede: Jou geheue se beste vriende. Die miëlienskede wat die isolerende vetlagie rondom jou senuwees vorm, bestaan hoofsaaklik uit fosfolipiede. Nuwe navorsing toon dat fosfolipiede nie net jou gemoedstoestand en denkvermoë verbeter nie, maar ook die brein beskerm teen geheueverlies en alzheimersiekte.
Lesitien is een van die fosfolipiede wat in sommige voedsel voorkom, maar waarvan ons nie genoegsaam inkry nie. Dr. Dharma Singh Khalsa, outeur van die boek Brain Longevity sê: ``Lesitien* is feitlik ’n wondermiddel so ver as dit die voorkoming van kognitiewe agteruitgang aangaan1.'' Gee jouself ekstra konsentrasievermoë deur jou inname van lesitien te verhoog. Voeg ’n teelepel lesitien by jou ontbytgraan elke oggend. Dit is by gesondheidswinkels in poeier- of kapsulevorm beskikbaar. Jy kan ook jou lesitieninname verhoog deur meer van sekere kossoorte te eet. Van die rykste bronne van fosfolipiede is die geel van eiers. As gevolg van die eierfobia wat ontstaan het oor die kolesteroldebakel, eet ons minder eiers. Navorsing het egter getoon dat eiers nie verantwoordelik is vir die styging in jou kolesterol*-vlakke nie2.  Eet gerus elke oggend een of twee eiers – solank jy dit verkieslik kook en nie in ’n pan gaarmaak nie. Eiers is uitstekende breinkos en het ook ander gesondheidsvoordele.
Bronne:
1.     Holford, P. 2005. Optimum nutrition for the mind. 383 pages. Piatkus. London.
2.   Bourre, J.M. 2006. Effects of nutrients (in food) on the structure and function of the nervous system: update on dietary requirements for the brain, part 1: micronutrients. J. Nutr. Health Aging, 10, 377-385.