Onthou: Soos reeds genoem in deel 1 kan jy
hierdie poging van jou lyf om ewewig te handhaaf duidelik voel as jy begin
luister na die taal van jou lyf. Jy sal ook voel as jou lyf uit ewewig raak en
dan daarop reageer en dit regstel. Jy kan beheer uitoefen oor om ‘weer goed te
voel’.
Hoe kry jou lyf dit reg om ewewig te
handhaaf? Die heel belangrikste meganisme wat jou liggaam gebruik om hierdie
ewewig in jou liggaam te bewerkstellig, is deur middel van negatiewe terugvoer.
Dit vind in ʼn kringloop plaas en om dit te verduidelik sal ons na
temperatuurregulering verwys (Sien deel 1): As die bloed temperatuur styg
bokant normaal, sal spesiale reseptore in die hipotalamus van die brein dit
waarneem. Hierdie reseptore raak gestimuleer en stuur senuboodskappe na die
temperatuurregulerings sentrum in die verlengde rugmurg, wat dat
senuweeboodskappe (impulse) na verskeie effektor organe in jou lyf stuur. In
die geval van temperatuur regulering is hierdie effektororgane veral die
velbloedvate wat verwyd en die sweetkliere wat geaktiveer word. Meer bloed
vloei na jou vel (vertoon rooi) en jy verloor meer hitte deur die vel. Ook sweet jy meer wat jou liggaam
verder afkoel. Jou bloedtemperatuur daal terug na normaal en die stimulasie van
die reseptore in die hipotalamus stop (negatiewe
terugvoer) 1.
Watter organe bewerk ewewig in jou lyf
Jy moes al teen hierdie tyd agtergekom het dat daar verskeie organe in
jou lyf is wat betrokke is by die handhawing van ewewig.
- By temperatuur regulering sal die vel (ja jy het reg gelees, die vel is ook ʼn orgaan) ʼn rol speel in temperatuur regulering. Op ʼn koue dag sal jou vel ʼn groot rol speel, maar die skelet spiere sal ook betrek word.
- In die regulering van ʼn konstante water balans en ʼn konstante pH sal die niere die hoof regulerings organe wees, maar die longe en vel sal ook ʼn rol speel.
- In die handhawing van ʼn konstante glukose vlak in die bloed sal die pankreas; lewer en skeletspiere ʼn rol speel 2.
- Hoewel verskillende organe ʼn rol speel in homeostase is dit egter twee stelsels wat homeostase beheer. Hierdie twee stelsels is die senuwee stelsel en die endokriene (hormoon) stelsels. Beide die twee stelsels oefen beheer oor jou liggaam uit. Dit beheer spesifieke organe of weefsel wat in die liggaam versprei kan wees (teiken organe). Die beheer verskil van mekaar soos in figuur 1 gesien kan word 3.
Figuur 1: Beheer verskille tussen senuwee stelsel en endokriene stelsel
Senuwee beheer: Ons het reeds gefokus op die rol van jou senuweestelsel in die handhawing van homeostase. Dit is nie alleen die temperatuurregulerings beheersentrum wat in die verlengde rugmurg (medulla oblongata) geleë is nie, maar dié area van die senuwee stelsel bevat ook talle ander beheersentrums, soos:
- Respiratoriese sentrum wat asemhaling beheer
- Kardio – sentrum wat hartsnelheid beheer
- Refleks sentrums wat prosesse soos sluk, hoes, opgooi en nies beheer
Hormoon beheer: ʼn Hormoon is ʼn chemiese stof wat deur die bloedstroom
versprei word om die aktiwiteite van ander dele van die liggaam te beïnvloed. Verskillende endokriene kliere produseer verskillende hormone, wat elk ’n
belangrike funksie het. Die vernaamste endokrien kliere sluit die byniere,
pituïtêre, skild- en geslagskliere in (sien figuur 1). Sekere organe, soos die
brein, maag en pankreas, produseer ook hormone.
Integrasie tussen die senuwee en endokriene
stelsel: Jou senuweestelsel en endokriene stelsel werk ook
saam om die effekte in jou lyf te balanseer. Die afskeiding van adrenalien en
noradrenalien is ʼn goeie voorbeeld van die integrasie tussen die twee
beheerstelsels. Adrenalien en noradrenalien word as katecholamiene
geklassifiseer en het dieselfde uitwerking op die liggaam. Alhoewel die twee
hormone chemies baie naverwant is aan mekaar is adrenalien die sterker een van
die twee boeties. Noradrenalien word deur die eindpunte van die simpatiese
senuweestelsel afgeskei, waar hul
verantwoordelik is vir die oordrag van impulse aan effektor organe soos jou
dermkanaal; hart en bloedvate ens. Daarom word hul neurohormone genoem.
Adrenalien (nie noradrenalien) word in groot hoeveelhede (selfs 300 keer meer
as normaalweg) deur die byniere direk in die bloed as ʼn hormoon afgeskei word.
Groot hoeveelhede
van die hormoon word veral gedurende die sogenaamde ‘veg of vlug’ respons
afgeskei. Die sogenaamde
‘adrenalin-rush’ wat jy soms in jou lyf voel is ’n wesenlike deel van ons
bestaan (sien deel 3).
Balanseer jou hormone en
herstel die ewewig in jou lyf 4,5
· Neem minder suiker en ander stimulante in. Hoe meer afhanklik jy daarvan
is, hoe meer gaan jou bloedsuikervlak wissel en lae bloedsuikervlakke stimuleer
die vrystelling van adrenalien. Die byniere dink jy is besig om te sterf en
gaan in die “veg of vlug“-modus (sien deel 3).
· Neem
’n omega-vetsuur-aanvulling. Dis die boublokke waaruit die liggaam baie van sy
hormone vervaardig.
· ’n Gereelde stoelgang,
minstens 1 keer per dag, voorkom dat gifstowwe in jou liggaam opbou.
· Reguleer
jou liggaam se pH-balans
(alkalies vs suur). Jou liggaam neig na suur, eet dus alkalies vormende kos,
veral vars of gestoomde groente. Of drink vars sap (bv. beet, wortels,
spinasie, pietersielie, seldery, kruisement, radyse en appels). Vermy verwerkte
kosse 4.
· Jou
niere speel ’n belangrike rol om die pH-balans te handhaaf. Drink 6 tot 8 glase water
per dag
· Oefen, oefen, oefen. Navorsing toon hoe fikser jy is, hoe laer is die
vlakke van streshormone.
Bronne:
1. Blessing
W. 1997. The Lower Brainstem and Bodily Homeostasis. New York:
Oxford University Press.
2. Cannon W. B.
1932. The Wisdom of the Body. New York: W. W. Norton.
3. Sherwood, L.S.
Essentials of Physiology. 4th Edition. 2006. Brooks/Cole Publishers. U.S.A. 650
pages.
5. New
Optimum Nutrition Bible deur Patrick Holford (Piatkus, 2004).
No comments:
Post a Comment